Die Groot Verlange: Die Verhaal Van Eugene N. Marais by Leon Rousseau
ISBN: 9780798118200
Protea Boekhuis, 31 December 2005
Hardcover, 514 pages
Die gedagte om hierdie lewensverhaal van Eugène N. Marais te skryf, het in 1946 ontstaan, agt-en-twintig jaar voor die publikasie van die boek. Die skrywer het in 1962 in all erns daaraan begin werk. Met lang onderbrekings het die taak twaalf jaar geduur.
Die Groot Verlange bied nie alleen ’n fassinerende blik op een van die veelsydigste en merkwaardigste Afrikaners wat ooit geleef het nie, maar gee terselfdetyd ’n panorama van ’n groot gedeelte van ons geskiedenis. Die verhaal begin in die vroeë dae van Pretoria (1871), toe die hoofstad weinig meer as ’n paar huisies tussen die ruie doringbosse aan die Apiesrivier was. Dit eindig drie jaar ná Hitler se bewindsaanvaarding - en albei faktore het Marais se lewensloop beïnvloed.
Tussenin is die Britse besetting van Pretoria, die Eerste Vryheidsoorlong, die Afrikaanse Taalbeweging in die Paarl (waar Marais toe juis op skool was), die Jameson-inval, die Boereoorlog en sy nadraaie, die "Naughty Nineties" (toe Marais in Londen was), die Eerste Wêreldoorlog en die Rebellie, die opkoms van Afrikaner-nasionalisme. Elkeen van hierdie fases of gebeurtenisse was in Marais se lewe van beslissende belang.
Teen hierdie wisselende agterdoek leer ken ons Marais in al sy veelsydigheid: As strydbeluste jong koerantman in die Krugerjare: as taalstryder, digter, prosaïs wat Afrikaans as taal help vestig het; as natuurwetenskaplike, hipnotis, geneesheer, sielkundige; as advokaat, wêreldburger, towenaar, kindervriend; as wewenaar, as minnaar en as morfinis.
"Een van my belangrikste oogmerke met die skryf van Die Groot Verlange was om ’n leesbare lewensverhaal te lewer," sê die Skrywer in sy Voorwoord. Hierin het hy uitmuntend geslaag. Ondanks die groot verskeidenheid stof wat behandel word, is die meer as 500 bladsye van Die Groot Verlange deurgans boeiend, pakkend, onderhoudend. Daar is deernis, daar is menslike warmte; daar is ook humor.
Gedeeltes van die boek is diep ontroerend; gedeeltes sal baie lesers skok. Maar min mense wat hierdie boek begin lees het, sal dit neersit, en niemand wat dit voltooi het, sal dit ooit vergeet nie.
Die Groot Verlange is uniek in Afrikaans. Geen ander boek kan daarmee vergelyk word nie.